DIE 3 BENNIES

Uit die Vryburg Eeufeesuitgawe:

In die loop van die honderd jaar van Hoërskool Vryburg se bestaan was die dood van die drie Bennies seker nog die aangrypendste.  Aangesien ons hulle dood nog elke jaar herdenk en dit verewig het deur die Drie Bennies-beker ons hoogste toekenning te maak, het ek dit goedgedink om my lesers terug te voer na daardie skrikwekkende, onvergeetlike dag - Saterdag, 3 Mei 1947.

Ag, sy het nie gestewe,
maar sy was somar dood:
geen siekte en lange lyding,
geen uur van voorbereiding,
geen dokter met die tyding;
net een, een onweerskoot,
en sy was dood.

(Totius, nadat sy oudste dogtertjie deur die weerlig gedood is.)
 

 

 

SATERDAG, 3 MEI, OM 9 V.M
'n Vragmotor staan voor die Grandhotel, vol opgewonde, lewenslustige jong seuns wat wag dat die drie onderwysers wat saam gaan, moet inklim.  Daar word gelag, geskerts en grootgepraat.  Gaan ons dan nie vandag ons kragte teen ons vriende op Christiana meet nie.  Alles is in die haak.  Singende vertrek ons:  Vryburg MOET weet dat die ou Skooltjie weer êrens gaan speel!

SATERDAG, 3 MEI, 3 UUR LATER
'n Inmekaargedrukte wrak by 'n spoorwegoorgang.  Verminkte jong seuns wat rondom lê.  Vier dooies.  Agt ernstig-beseerdes.  Talle met ligter beserings.  Skrikbevange seuns met verflenterde klere wat doelloos ronddool.  Gekreun.  Geween.  Die Dood was op die Pad.

 *                              *                              *

Saterdag, 3 Mei, ons sal jou nie vergeet nie.  Hy het ons uit die hoogstes na die dieptes gesleur.  Hy het ons in rou en wanhoop gedompel.  Jy het jou merk op ons ou Skooltjie gelaat.
 

Singende het ons Vryburg verlaat, die eerste en die tweede voetbalspanne.  Vir die eerste keer ry ons in 'n toe, militêre vragmotor.  Voorin sit mnr. Van der Linde, die bestuurder, mnr. J. Calitz en mnr. J. Klue,  mnr. Calitz in die middel.  Mnr. S. M. klim soos gewoonlik agter by die seuns in.  Hy het die onafskeidelike Skoolvlaggie by hom.  Al die ander spelers en die drie seuns wat as toeskouers saamgaan, sit in die bak.  Die heelagterste kêrels wil maklik sit, vou dus 'n kombers dubbel, plaas dit op die rand van die bak agter, en gaan daarop sit met hulle voete na binne.  So sit hulle:  Noel Dent, heel links, dan Bennie van Niekerk, mnr. S. M., Bennie Kuun, en in die regterhoek Bennie Kruger.

Buitekant die dorp word die singery gestaak.  Nou word gesels en oor die uitslae van vanmiddag se wedstryde gespekuleer.  Mnr. S. M. vertel 'n paar staaltjies oor vorige besoeke aan Christiana.  Deur Schweizer-Reneke word weer gesing.  Die Transvalers moet darem weet dis Vryburgers wat hier ry!  Ons volg nie die kortpad van Schweizer-Reneke na Christiana nie:  daar is te veel hekke, en die pad is gewoonlik nie goed nie.  Dus oor Bloemhof.

'n Paar myl duskant Bloemhof kom die eerste terugslag:  'n buiteband bars.  Op die oomblik dink ons dis 'n erstige saak; ons wis mos nie watter vreeslikheid nog voorlê nie.  Al die seuns is tog maar te gretig om te help toe die noodwiel aangesit moet word.  Die onderwysers is eintlik in die pad, dus begin hulle op voorstel van mnr. Calitz in die rigting van die dorp loop.  Indien hulle nie voor die tyd weer ingehaal word nie, wil hulle 'n koppie koffie in die kafeetjie gaan drink.  Maar die ywer van die seuns maak kort proses met die oponthoud, en die onderwysers klim ongeveer 'n halfmyl van die kafee af weer op.

Was dit nie vir daardie buiteband nie, dan sou ons teen twalfuur reeds in Christiana gewees het!

In Bloemhof sê mnr. Van der Linde dat die noodwiel nie styf genoeg is nie.  Hy hou dus by 'n garage stil, waar dit na sy sin gepomp word.  Die kafee is net langsaan, en mnr. Calitz doen aan die hand dat die verlangde koppie koffie nou gedrink word.  Die grootmense wil net naderstaan, toe hy hom weer bedink en vir mnr. S. M. vra hoe laat dit is.  Op die antwoord "Half-twaalf!" besluit mnr. Calitz dat dit reeds te laat is, en ons liewers moet aanstoot.

Het daardie koffiedrinkery maar net plaasgevind! ...

Maar dit kon nie, dit mog nie, want voor lê die spoorwegoorgang by Ferndale en wag op sy prooi.  Die tyd dat die niksvermoedende slagoffers daar moes aanland, is tot op 'n sekonde haarfyn uitgewerk deur 'n onverbiddelike Noodlot.  En niks moet tussenby kom nie.

Singende is ons deur Bloemfhof.  Later ry ons parallel met die treinspoor.  Die pad en die treinspoor lê 'n entjie van mekaar.

Ons nader die onheilsplek.

Daar anderkant kan die drie voorin 'n trein sien, maar hulle kyk reg van voor in die lokomotief vas.  En dan lyk dit mos almelewe of 'n trein staan.  Maar dit maak ook nie saak nie; die hekke by die oorgang is mos toe!  Die ander insittendes weet nie van die trein nie, want die vragmotor se kap verhinder die uitsig.

Net soos 'n mens by die oorgang kom, maak die pad 'n skielike draai na links.  Nou kan die wat heelagter op die rand van die bak sit, ook die trein sien, maar ook reg van voor.  Bennie van Niekerk wil nog iemand anders dieper-in terg en sê:  "Haai, jy wat nog nie 'n trein gesien het nie, daar is een!"  Dit was die laaste woorde wat hy ooit op aarde sou sê.  Arme Bennie.

Arme Bennies.  Hul tydjie was om.

Mnr. S. M. wat regoor die trappie sit, staan op om af te klim, want die hek is mos toe, en ons is moeg van die sittery en wil 'n bietjie uitrek.

Maar die Noodlot wou dit anders hê.

'n Seun kom die hek oopmaak.

Die arme kêreltjie.  Hy wil seker 'n guns aan die bestuurder bewys.  Hy het sy Pa stasie toe gebring, en hulle wag al so lank op die trein.  Hy verveel hom want die trein wil maar net nie kom nie.  A, hier kom 'n vragmotor!  Ek sal vir hulle die hek oopmaak.

Hy doen dit.  'n Noodlottige daad.

Die bestuurder wat onder die indruk moes verkeer het dat die trein staan, glo nou vas dat dit die geval is, want maak die kêreltjie dan nie die hek vir hom oop nie?  Dus, net toe hy op die punt gestaan het om stil te hou, ry hy weer verder.

Mnr. Calitz en mnr. Klue merk nie onraad nie.  Hulle is vas onder die indruk dat mnr. Van der Linde uit erkentlikheid teenoor die seun net deur die hek wil ry en dan gaan stilhou - nog 'n veilige distansie van die spoor af.

Te laat besef hulle dat die bestuurder van plan is om oor te steek ...

Die goederetrein het nooit gestaan nie, maar teen 45 m. p. u het hy deur die stasietjie gestoom.  Net voor die lokomotief skakel die motor af - op die spoor.  Daar was 'n geweldige slag toe die yslike gevaarte die vragmotor net langs die voorwiele skep.  Met dié wat hy die voordeel van die vragmotor van die spoor af wegstamp, ruk hy die bakdeel agter binnetoe.  Die niksvermoedende seuns word onmiddellik in alle rigtinge uitgeslinger.

Die drie Bennies in die trein vas.  Die ander die hele wêreld vol.

Verskrikking.  Verminking.  Gekreun.  Geween.

Die Dood is op die Pad.

 *                              *                              *

Maar ons trek 'n sluier oor die afgryslikhede van daardie chaotiese eerste minute wat op die slag gevolg het.  Mag God gee dat ons nooit weer so iets oorkom nie.

In die verwarring het dié wat kon, mekaar probeer help so goed soos hulle kon.  Later het gelukkig motors op die toneel verskyn.  'n Passasierstrein het stilgehou.  Vroue en mans het te hulp gesnel - engele van genade wat verligting kon bring in hierdie hel.  Die polisie en dokter is ontbied.  Maar Bennie van Niekerk en Bennie Kuun was dood.  Op die slag gedood.  En Bennie Kruger en mnr. Van der Linde was sterwende.  Miskien ander ook.  Wie wis?

Later het mnr. S. M. daarin geslaag om met behulp van mnr. Blackie van Warrenton wat op die passasierstrein was, Vryburg telefonies vanaf Wildhoen, die volgende stasietjie, van die ramp in kennis te stel.  Intussen is besluit om die agt wat erstige beserings opgedoen het, na die Klerksdorpse hospitaal te vervoer.  Met die passasierstrein.  Teen hierdie tyd het Bennie Kruger en mnr. Van der Linde ook die laaste asem uitgeblaas.

Die ander is eenkant-toe geneem.  Nadat die trein vertrek het, is hulle met motors na Bloemhof gebring waar hulle in die hotel versorg is.  Hier het mnr. S. M. verslag aan die polisie gedoen oor elkeen se beserings.

Eindelik het die eerste Vryburgers opgedaag...

 *                              *                              *

Die onheilstyding het soos die weerlig in Vryburg ingeslaan.  Verwarring het onstaan.  Oordrewe gerugte het versprei.  Arme ouers!  Hulle wis nie die lot van hulle kinders nie.  Geen wonder dan dat motors teen die hoogste spoed na Bloemhof gesnel het nie!  Mnr. de Jongh, mnr. du Plessis, koshuisvader, en mnr. du Plooy was van die eerstes wat op Bloemhof aangekom het.  Die lykskouing is by die dodehuis gehou, en mnr. du Plessis het die verongeluktes offisiëel uitgeken.  Die ander is teen die laatagtermiddag en aand per motor en die ambulans na Vryburg gebring.

Ons Skoolvlaggie het in die ramp verlore geraak.

Mnr. de Jongh-hulle is die aand nog deur na Klerksdorp.  Daar het hulle gewag tot elkeen van die agt ondersoek is.  Toe mnr. van Rensburg verneem dat sy seun, Hans, ernstig beseer is, is hulle in allerhaas