|
Singende het ons Vryburg verlaat, die eerste en
die tweede voetbalspanne. Vir die eerste keer ry ons in 'n
toe, militêre vragmotor. Voorin sit mnr. Van der Linde, die
bestuurder, mnr. J. Calitz en mnr. J. Klue, mnr. Calitz in
die middel. Mnr. S. M. klim soos gewoonlik agter by die seuns
in. Hy het die onafskeidelike Skoolvlaggie by hom.
Al die ander spelers en die drie seuns wat as toeskouers saamgaan, sit
in die bak. Die heelagterste kêrels wil maklik sit, vou dus
'n kombers dubbel, plaas dit op die rand van die bak agter, en gaan
daarop sit met hulle voete na binne. So sit hulle:
Noel Dent, heel links, dan Bennie van Niekerk, mnr. S. M., Bennie Kuun,
en in die regterhoek Bennie Kruger.
Buitekant die dorp word die singery
gestaak. Nou word daar gesels en oor die uitslae van vanmiddag se
wedstryde gespekuleer. Mnr. S. M. vertel 'n paar staaltjies
oor vorige besoeke aan Christiana. Deur Schweizer-Reneke word
weer gesing. Die Transvalers moet darem weet dis Vryburgers
wat hier ry! Ons volg nie die kortpad van Schweizer-Reneke na
Christiana nie: daar is te veel hekke, en die pad is
gewoonlik nie goed nie. Dus oor Bloemhof.
'n Paar myl duskant Bloemhof kom die eerste
terugslag: 'n buiteband bars. Op die oomblik dink
ons dis 'n ernstige saak; ons wis mos nie watter vreeslikheid nog voorlê
nie. Al die seuns is tog maar te gretig om te help toe die
noodwiel aangesit moet word. Die onderwysers is eintlik in
die pad, dus begin hulle op voorstel van mnr. Calitz in die rigting van
die dorp loop. Indien hulle nie voor die tyd weer ingehaal
word nie, wil hulle 'n koppie koffie in die kafeetjie gaan
drink. Maar die ywer van die seuns maak kort proses met die
oponthoud, en die onderwysers klim ongeveer 'n halfmyl van die kafee af
weer op.
Was dit nie vir daardie buiteband nie, dan sou
ons teen twaalfuur reeds in Christiana gewees het!
In Bloemhof sê mnr. Van der Linde dat die
noodwiel nie styf genoeg is nie. Hy hou dus by 'n garage
stil, waar dit na sy sin gepomp word. Die kafee is net
langsaan, en mnr. Calitz doen aan die hand dat die verlangde koppie
koffie nou gedrink word. Die grootmense wil net naderstaan,
toe hy hom weer bedink en vir mnr. S. M. vra hoe laat dit is.
Op die antwoord "Half-twaalf!" besluit mnr. Calitz dat dit reeds te
laat is, en ons liewers moet aanstoot.
Het daardie koffiedrinkery maar net
plaasgevind! ...
Maar dit kon nie, dit mag nie, want voor lê die
spoorwegoorgang by Ferndale en wag op sy prooi. Die tyd dat
die niksvermoedende slagoffers daar moes aanland, is tot op 'n sekonde
haarfyn uitgewerk deur 'n onverbiddelike Noodlot. En niks
moet tussenby kom nie.
Singende is ons deur Bloemfhof. Later
ry ons parallel met die treinspoor. Die pad en die treinspoor
lê 'n entjie van mekaar.
Ons nader die onheilsplek.
Daar anderkant kan die drie voorin 'n trein
sien, maar hulle kyk reg van voor in die lokomotief vas. En
dan lyk dit mos almelewe of 'n trein staan. Maar dit maak ook
nie saak nie; die hekke by die oorgang is mos toe! Die ander
insittendes weet nie van die trein nie, want die vragmotor se kap
verhinder die uitsig.
Net soos 'n mens by die oorgang kom, maak die
pad 'n skielike draai na links. Nou kan die wat heelagter op
die rand van die bak sit, ook die trein sien, maar ook reg van
voor. Bennie van Niekerk wil nog iemand anders dieper-in terg
en sê: "Haai, jy wat nog nie 'n trein gesien het nie, daar is
een!" Dit was die laaste woorde wat hy ooit op aarde sou
sê. Arme Bennie.
Arme Bennies. Hul tydjie was om.
Mnr. S. M. wat regoor die trappie sit, staan op
om af te klim, want die hek is mos toe, en ons is moeg van die sittery
en wil 'n bietjie uitrek.
Maar die Noodlot wou dit anders hê.
'n Seun kom die hek oopmaak.
Die arme kêreltjie. Hy wil seker 'n
guns aan die bestuurder bewys. Hy het sy Pa stasie toe
gebring, en hulle wag al so lank op die trein. Hy verveel hom
want die trein wil maar net nie kom nie. A, hier kom 'n
vragmotor! Ek sal vir hulle die hek oopmaak.
Hy doen dit. 'n Noodlottige daad.
Die bestuurder wat onder die indruk moes
verkeer het dat die trein staan, glo nou vas dat dit die geval is, want
maak die kêreltjie dan nie die hek vir hom oop nie? Dus, net
toe hy op die punt gestaan het om stil te hou, ry hy weer verder.
Mnr. Calitz en mnr. Klue merk nie onraad
nie. Hulle is vas onder die indruk dat mnr. Van der Linde uit
erkentlikheid teenoor die seun net deur die hek wil ry en dan gaan
stilhou - nog 'n veilige distansie van die spoor af.
Te laat besef hulle dat die bestuurder van plan
is om oor te steek ...
Die goederetrein het nooit gestaan nie, maar
teen 45 m. p. u het hy deur die stasietjie gestoom. Net voor
die lokomotief skakel die motor af - op die spoor. Daar was
'n geweldige slag toe die yslike gevaarte die vragmotor net langs die
voorwiele skep. Met dié wat hy die voordeel van die vragmotor
van die spoor af wegstamp, ruk hy die bakdeel agter binnetoe.
Die niksvermoedende seuns word onmiddellik in alle rigtinge
uitgeslinger.
Die drie Bennies in die trein vas.
Die ander die hele wêreld vol.
Verskrikking. Verminking.
Gekreun. Geween.
Die Dood is op die Pad.
*
*
*
Maar ons trek 'n sluier oor die afgryslikhede
van daardie chaotiese eerste minute wat op die slag gevolg
het. Mag God gee dat ons nooit weer so iets oorkom nie.
In die verwarring het dié wat kon, mekaar
probeer help so goed soos hulle kon. Gelukkig het motors later op die toneel verskyn. 'n Passasierstrein het
stilgehou. Vroue en mans het te hulp gesnel - engele van
genade wat verligting kon bring in hierdie hel. Die polisie
en dokter is ontbied. Maar Bennie van Niekerk en Bennie Kuun
was dood. Op die slag gedood. En Bennie Kruger en
mnr. Van der Linde was sterwende. Miskien ander
ook. Wie wis?
Later het mnr. S. M. daarin geslaag om met
behulp van mnr. Blackie van Warrenton wat op die passasierstrein was,
Vryburg telefonies vanaf Wildhoen, die volgende stasietjie, van die
ramp in kennis te stel. Intussen is besluit om die agt wat
erstige beserings opgedoen het, na die Klerksdorpse hospitaal te
vervoer. Met die passasierstrein. Teen hierdie tyd
het Bennie Kruger en mnr. Van der Linde ook die laaste asem uitgeblaas.
Die ander is eenkant-toe geneem.
Nadat die trein vertrek het, is hulle met motors na Bloemhof gebring
waar hulle in die hotel versorg is. Hier het mnr. S. M.
verslag aan die polisie gedoen oor elkeen se beserings.
Eindelik het die eerste Vryburgers opgedaag...
*
*
*
Die onheilstyding het soos die weerlig in
Vryburg ingeslaan. Verwarring het onstaan. Oordrewe
gerugte het versprei. Arme ouers! Hulle wis nie die
lot van hulle kinders nie. Geen wonder dan dat motors teen
die hoogste spoed na Bloemhof gesnel het nie! Mnr. de Jongh,
mnr. du Plessis, koshuisvader, en mnr. du Plooy was van die eerstes wat
op Bloemhof aangekom het. Die lykskouing is by die dodehuis
gehou, en mnr. du Plessis het die verongeluktes offisiëel
uitgeken. Die ander is teen die laatagtermiddag en aand per
motor en die ambulans na Vryburg gebring.
Ons Skoolvlaggie het in die ramp verlore geraak.
Mnr. de Jongh-hulle is die aand nog deur na
Klerksdorp. Daar het hulle gewag tot elkeen van die agt
ondersoek is. Toe mnr. van Rensburg verneem dat sy seun,
Hans, ernstig beseer is, is hulle in allerhaas na Klerksdorp. Kortby Wolmaransstad het hulle motor omgeslaan, en moes
hulleself in die hospitaal aldaar behandel word.
*
*
*
Die insittendes van die vragmotor:
|
EERSTE
SPAN Hendrik Botha Talbot Sadler Noel Dent Piet van
Zyl Ulendo Gresse Bennie van Niekerk Bennie Kuun Bill van
Eeden Dirk Odendaal Freek Pretorius Hendrik Bruwer (Std. 8) Ernst
Nortjé Louw van Wyk Bennie Kruger Hans Terblanche |
TWEEDE
SPAN Naas Botes Jochem Scholtz Marthinus de Klerk Nantes de
Bruyn Jaap Nieuwoudt Adriaan de Jager Jan van Tonder Carl
Wepener Cornelius Swart Hans van Rensburg Philip Kruger Hendrik
Bruwer (Std. X) Dirk Lourens Piet Marais Jan Lambrecht |
Mnr. J. R.
Calitz (Breier) Mnr. J. Klue Mnr. S. M. de Villiers Mnr. G. v.d. Linde
(Bestuurder van die vragmotor)
Ensajas van Vuuren George van der
Linde Willie Burger |
Van die 34 agterin is 32 uit die bak
geslinger. Net 'n drietal het sonder enige beserings uit die ongeluk gekom.
Die agt beseerders wat na Klerksdorp vervoer is: Mnr. J.R. Calitz, Hendrik
Botha, Talbot Sadler, Hans Terblance, Jaap Nieuwoudt, Hans van Rensburg, Freek
Pretorius & Adriaan de Jager.
SONDAG, 4 MEI 'n Dag van
onsekerheid, van bangheid, van bedruktheid. 'n Wolk hang oor
Vryburg.
MAANDAG, 5 MEI Die drie Bennies en
mnr. van der Linde word weggelê. Onder blyke van die grootste belangstelling en
diepe rouklag. Bennie van Niekerk en mnr. van der Linde is om 11 uur vanuit die
NG Kerk, Vryburg, begrawe. Die plaaslike winkels en kantore was vanaf 10:30
gesluit. Alle seksies van die samelewing het gekom om die laaste eer aan die
oorledenes te betoon. Ruimte het in die Kerk ontbreek, en baie mense kon as
gevolg die roudiens nie bywoon nie.
Ds. Liebenberg het die diens gelei. Hy is
bygestaan deur Ds. van der Merwe van die Ger. Kerk, en Eerwaardes Blake en
Pullen, van die Congregational en Engelse Kerke onderskeidelik. Dr. Getz het
namens die Zionistiese Gemeente 'n boodskap van medelye oorgedra.
Van die Kerk af het die langste lykstoet wat
Vryburg nog ooit beleef het na die begrafplaas vertrek. Vooraan het die
skoolseuns geloop, gevolg deur die lykswa van Bennie, sy draers, en die
skoolmeisies. Dan die lykswa van mnr. van der Linde, en die res van die stoet.
By die graf het Ds. Liebenberg die verrigtinge waargeneem, en Ds. van der Merwe
het 'n gebed gedoen. As draers van Bennie het J. le Roux, J. Lambrecth, L. v.
Wyk, B. v. Eeden, N. Dent en H. Bruwer opgetree. Sy skoolmaats het hom vir
oulaas 'n lied toegesing. Later is aan die koppenent van die graf 'n mooi
V.H.S. met blomme gepak.
Bennie Kuun is ook om 11 uur op Wartlaagte, sy
oom se plaas, begrawe. Ds. Conradie van Stella en Ds. Oosthuizen van Kerkplaas
het die diens gelei. Dirk Odendaal, J. Reyneke, W. Mostert, J. Kuun, W.
Hodgeman en J. Mostert was die draers. By die graf het Ds. Conradie weer 'n
gebed gedoen. Mnre. Nieuwoudt, Hough en Mostert het vervolgens 'n paar woorde
gesê. 'n Koor het "Daar's bemindes in die hemel" gesing, en terwyl die graf
toegegooi is: "Veiling in Jesus Hoede."
Om 3 uur n.m is Bennie Kruger op Geduld, sy
vader se plaas, ter ruste gelê. Op die breë stoep van die plaashuis, waar die
groot aantal kranse ook byeengebring is, en voor die stoep het die ongeveer 200
aanwesiges saamgekom. Die roudiens is gelei deur Ds. Smit, die predikant van
die Hervormde Kerk, Delareyville; bygestaan deur Ds. Liebenberg en Eerw. Blake
van Vryburg. Daarna is die oorledene na die graf gedra, die eerste entjie deur
ses van sy skoolmaats, en verder tot by die graf deur ses familiebetrekkinge en
vriende. By die graf het mnr. J.F. du Toit, ouderling van die
Delareyville-gemeente, die woord gevoer, en namens die familie is 'n dankwoord
deur mnr. L. Fourie, gerig.
*
*
*
Ons drie Bennies is nie meer nie. Maar hulle
lewe nog onder ons.
Bennie Kuun is op 23 Junie 1930, in Vryburg
gebore. Hier het hy begin skoolgaan, maar na sy ouers verhuis het, lê hy Std.
1 op Perdevlei, Reivilo, af. Die volgende jaar is hy weer terug op Vryburg.
Hier het hy dan ook tot sy dood bly skoolgaan. Van jongs af het hy sy
opgeruimde geaardheid openbaar. Hy was altyd 'n soet en gehoorsame kind, vol
lewenslus, en orals bedrywig. Sy liefde vir tuinbou en boerdery het gou geblyk,
en dit was dan ook sy ideaal om eendag te boer. Hy het nooit in 'n standerd
gesak nie, en sou na hy die Senior Sertifiaat-eksamens afgelê het, vir 'n tyd op
Kadebis in een van sy vader se winkels as bestuurder opgetree het. Hy het dit
voorheen reeds dikwels gedoen as sy ouers weg was. Maar die plan was egter net
om die nodige middele byeen te bring, sodat hy hom later op die boerdery kon
toelê. Drie weke voor sy dood is hy as lidmaat in ons Kerk
voorgestel.
Bennie van Niekerk is op 8 Oktober 1930, in
Vryburg gebore. Sommer van vroeg af was hy 'n fris en woelige knapie wat 'n
voorliefde gehad het om met 'n hammer en spykers te speel. Hy het vroeg 'n paar
noue ontkomings gehad. Eenmaal het hy paraffien gedrink in die waan dat dit
water was. 'n Ander keer het hy op Amalia op 'n windpomp geklim en is eers met
baie moeite daarvan afgehaal. Hy het al sy skooljare op Vryburg deurgemaak, en
was 'n sportentoesias van die eerste water. Afgesien van voetbal het hy tennis
en hokkie gespeel, en was 'n knap swemmer en skut. Hy het al die provinsiale
voetbalspelers en vername boksers by name geken en graag met sy vader oor hulle
gesels. Sy stokperdjie was om modelvliegtuie te bou. Hy het 'n lewendige
belangstelling in masjinerie, motors, vliegtuie en elektrisiteit gehad. Hy kon
elektriese installasies in die huis waarneem, en het eenmaal 'n
miniatuur-bioskoop gebou. Sy kennis van motorvoertuie was deeglik, en hy het in
die laaste Desembervakansie in een van die plaaslike garages gewerk. Hy wou ook
dan eendag 'n vlieënier of 'n elektriese werktuigkundige word. Bennie was altyd
'n stil, beskeie en aangename seun.
Bennie Kruger is op 17 Oktober 1930, op
Rhenosterdoorns in die distrik Lichtenburg gebore. Van kleins af het hy in
boeke, waens en gewere belangestel, maar nie juis 'n groot voorliefde vir die
boerdery getoon nie. Hy het begin skoolgaan in die Lushof Primêre Skool en daar
geleer totdat hy die St. Ses eksamen afgelê het. In 1944 het hy na ons gekom en
hom gou 'n baie flink leerling getoon. Hy het St. viii en St. ix in die eerste
klas geslaag. Sy plan was om die volgende jaar 'n graadkursus aan P.U.K. te
volg en hom as onderwyser te bekwaam. In die vakansies het hy gewoonlik baie
gelees en graag vir sy jonger suster skoolgehou. Maar hy was ook altyd fluks
met die plaaswerk.
*
*
*
DINSDAG, 6
MEI Die skool is aan die gang,
maar 'n droewe atmosfeer rus orals. Mnr. de Jongh is weg Klerksdorp toe. 'n
Speurder en polisie is by die skool om beëdigde verklarings af te
neem.
'n Treurige week sleep met sware voete verby.
Die tyding van Klerksdorp is nie bemoedigend nie. 'n Enigste ligstraal is die
feit dat ons nie alleen staan in ons droefheid nie. Van heine en van ver, van
naby, van orals stroom die simpatiebetuigings in, van oud-skoliere, van vriende,
van ander skole, van bekendes en van onbekendes. Almal voel saam met ons. En
daaruit kon ons 'n mate van troos put. Maar dit was donker.
SATERDAG, 10
MEI Menere de Jongh, Wessels,
S. M. en Jochem Scholtz is Klerksdorp toe. Die motor is vol eetgoed wat die
kinders vir hulle ongelukkige vriende aldaar stuur. In Klerksdorp word die
besoekers aangenaam verras. Afgesien van Hendrik Botha wat nog nie sy bewussyn
herwin het nie, is die ander almal baie beter. Dit gaan nog nie met almal
heeltemal so goed soos hulle wil voorgee nie. 'n Mens kan merk hoe hulle
probeer om die blinkkant voor te hou. Hulle is vol lewe, selfs opgewek, en vir
die eerste keer in 'n hele week voel 'n mens beter. Die son skyn
weer.
Freek Pretorius loop reeds buite rond. Sy
vader is daar om hom te kom haal. Hy gaan sommer netnou huis toe. Adriaan de
Jager is die hulpvaardigheid self. Hy stap van die een bed na die ander, help
hier, terg daar. Ook hy keer dieselfde agtermiddag saam met mnr. de Jongh na
Vryburg terug. Die manne vertel allerlei staaltjies. Jaap Nieuwoudt laat net
daar en dan vir mnr. S. M. plegtige belowe dat die sekondêre span nie op Bray
sal gaan voetbal speel voordat hy kan meedoen nie. En daarby is sy gesig nog
altyd taamlik verrinneweer!
Die verpleegsters getuig, hulle is 'n gawe
klompie. Hulle verwag om almal binnekort uit die hostpitaal te wees.
Net Hendrik Botha se toestand is nog
onveranderd ...
IN DIE HOSPITAAL OP KLERKSORP "Life
is too short to be little", het ek gelees in 'n boekie uit die leesstof wat die
goeie mense van Klerksdorp vir ons gebring het. Dit som vir my ons indrukke en
gewaarwordinge in die hospitaal op. Ons het soveel liefde, vriendelikheid,
opoffering en simpatieke belangstelling ontvang dat ons moet glo dat daar nog
oneindig meer goed as kwaad in die lewe is; dat die lewe nog mooi en die moeite
werd is; dat dit te kort is vir kleinighede, vir selfsug.
Waar ons in vertwyfeling was oor die waarom
van die gebeure en waar die tragiese daarvan diep in ons gemoedslewe ingegryp
het, was hierdie mooiheid in die lewe vir ons 'n lig en 'n aansporing om ons
lewens ook mooier en diensbaarder te maak; om soos die makoutjies van Jan
Celliers "totdat ons dag word opgesê, net lief te hê, net lief te
hê."
Die verpleegsters van die Klerksdorpse
Hospitaal het ons bewondering afgedwing vir hulle altyd vriendelike, geduldige
en simpatieke optrede. Vir mooi jong dames om so baie te verdra en so hard te
werk en nog so gaaf te bly, is seker hulle mooiste sieraad. Ons kan hulle
opoffering en liefdesdiens nie vergeet nie. Vir ons was dit inderdaad: "Little
deeds of kindness, little thoughts of love - Make this earth an Eden, as the
Heaven above."
Die Matrone se opgewekte vriendelikheid elke
dag, en die Suster se strenge maar begrypende sorg, het ons leer waardeer. Ons
dokters, Drs. Radloff, Marais en Retief, het vertroue ingeboesem met hulle
deeglikheid, vriendelikheid en gesonde sin vir humor. Hulle was ons
maats.
Van die publiek van Klerksdorp het ons die
indruk gekry dat hulle enig van hulle soort is. Voortdurend het hulle ons
oorlaai met gunsbewyse. Aan eetgoed, leesstof en blomme het dit ons nooit
ontbreek nie. Ons dink veral aan die verskillende skole met hulle hoofde en
personele; aan die stasiemeester, mnr. Werth; aan die lede van die St. John's
Ambulans op Klerksdorp. Hulle almal se liefde, opoffering en onbaatsugtige
diens was vir ons te wonderlik.
Aan Vryburg se mense ons innige dank. Hulle
telegramme, briewe, persoonlike besoeke en eetgoedjies het ons opgebeur in
daardie moeilike tyd. Veral wil ons baie dankie sê vir hulle belangstelling en
die baie eetgoed. Die Hoërskool het ons so oorlaai met geld vir benodighede dat
ons die grootste gedeelte nie kon spandeer nie. As leerlinge het ons ons
onderwysers in 'n ander lig gesien - ook mense met gevoel en liefde vir die
leerlinge. "A friend in need is a friend indeed."
Ons moet 'n woordjie van innige waardering rig
aan ons Hoof, mnr. de Jongh. Ons alleen weet hoe ons sy teenwoordigheid daardie
Saterdagaand op Klerksdorp waardeer het toe ons so oorbluf en verbysterd was.
Die kalme bedaardheid wat sy sigbare besorgheid oorheers het, het ons gerus laat
voel. Sy besoek die volgende Saterdag saam met mnr. Wessels en S.M het oneindig
baie beteken om ons meer op te beur en te bemoedig.
Ek persoonlik moet 'n woordjie van lof rig aan
die seuns wat deur hulle mooi gedrag, hulle hulpvaardigheid en hulle skoon sin
vir humor 'n plekkie in die harte van die hospitaalpersoneel verower het, en die
Hoërskool se goeie naam hoog gehou het.
Die dood van ons drie maats maak ons stil en
ons begryp die moeilik.
Met Tennyson in sy "In Memoriam" wil ons
sê: "Forgive my grief for one removed, Thy creature, whom I found so
fair. I trust he lives in thee, and there I find him worthier to be
loved."
J.R.C
En so het die dae verby gegaan, en so het
hulle stadig maar seker herstel. Op 10 Mei het Freek Pretorius en Adriaan de
Jager die hospitaal verlaat. Op 13 Mei - Hans Terblanche, 14 Mei - Hans van
Resnburg, 17 Mei - Jaap Nieuwoudt, 22 Mei - Talbot Sadler, 23 Mei - Mnr. J.R.
Calitz, 3 Junie - Hendrik Botha.
*
*
*
Hendrik Botha se toestand het vir ons baie
kommer veroorsaak. Twaalf dae lank was hy bewusteloos. Daar is vasgestel dat
'n deel van sy kopbeen ingeduik is en teen sy harsings druk. Die dokters het as
gevolg 'n operasie uitgevoer en 'n stukkie been verwyder. Eindelik het hy
bygekom en van toe af vinnig beter geword. Op 3 Junie kon hy die hospitaal
verlaat. Aan die ouerlike huis het hy stadig maar seker herstel. In Augustus
is hy weer Klerksdorp toe. Die dokters het 'n plaaitjie oor die plek waar die
been verwyder is, ingesit. Hendrik self wil al graag weer skool toe kom, en die
plaaslike geneeshere meen dan ook dat dit miskien goed sal wees as sy
gedagtegang deur die skoolwerk in beslag geneem kan word. So mag dit gebeur dat
hy vanjaar weer kom inval. Toe die voetbalportrette vir die jaarblad geneem is,
was hy teenwoordig. Ons is tog te dankbaar vir sy herstel.
*
*
*
Mnr. S.M., Noel Dent, Ulendo Gresse, Bill van
Eden, Hendrik Bruwer (Std. 8), Louw van Wyk, Naas Botes, Marthinus de Klerk,
Nantes de Bruyn, Carl Wepener, Willie Burger, Cornelius Swart, Philip Kruger,
Dirk Lourens, Piet Marais en Jan Lambrecht het almal dadelik weer die skool
besoek.
Maar begryplikerwyse wou die ouers na so 'n
ongeluk graag hulle kinders in lewende lywe sien, en so is aan bogenoemde
spannetjie verlof toegestaan om vir 'n paar dae huis toe te gaan. Die meeste
het dan ook van die geleentheid gebruik gemaak.
Op 7 Mei het George van der Linde (seun van
die oorledene) teruggekeer.
Op 12 Mei: Dirk Odendaal, Jochem Scholtz,
Hendrik Bruwer (Std. X), Jan van Tonder, Esajas van Vuuren en Adriaan de
Jager.
19 Mei: Mnr. J. Klue
26 Mei: Piet van Zyl en Ernst
Nortjé
Op 14 Julie (Derde Kwartaal): Talbot Sadler,
Freek Pretorius, Hans Terblance, Jaap Nieuwoudt, Hans van Rensburg en mnr. J.R.
Calitz.
*
*
*
Op 11 Junie het die geregtelike ondersoek op
Bloemhof plaasgevind. Menere Klue, du Plesses en S. M., en Noel Dent en George
van der Linde is vanaf Vryburg as getuies opgeroep. Hulle het per motor
daarheen gereis. Mnr. Vattie van Niekerk, Bennie se vader, het ook saamgegaan,
asook Prokureur P. van Rooyen om 'n oog oop te hou ingeval 'n tegniese sakie
opduik. Mnr. Calitz wat toe aan die huis van mnr. en mev. Scott - laasgenoemde
is sy suster - besig was om te herstel, moes ook van Ottosdal kom vir die
ondersoek. Die masjinis, stoker en kondukteur van die trein, die seun wat die
hek oopgemaak het, en ander, het ook getuienis afgelê. Die aand het mnr. Calitz
saam na Vryburg teruggekeer.
(Graag sê ons dankie aan mev. de Wet en
Solomon & Kie met wie se motors ons gratis na Bloemhof vervoer is. Ook aan
mnr. Piet van Rooyen was 'n hele dag kosteloos vir ons opgeoffer
het.)
*
*
*
Die
ou Skooltjie het deur diep waters gegaan. Tog met Sy genade hou
ons vol, en sal ons bo uit kom Ons is 'n vreeslike slag
toegedien. Maar dit kon soveel erger gewees het.
Veronderstel maar net, die lokomotief het die bak van die vragmotor
getref! Ons moes offers bring. Maar gelukkig het geeneen
van die oorlewendes liggaamlike knoue weg nie; geeneen het 'n arm of
been ens., verloor nie. Daarom het ons soveel stof tot
dankbaarheid - temidde van ons rou.
Langs hierdie weg wil ons dan dankie sê
aan:
-
Almal wat saam met ons gevoel het; wat
skriftelik, telegrafies of mondeling met ons gesimpatiseer het;
-
Die dokter en vriende wat op die moeilikste
tydstip ons by Ferndale so gehelp het;
-
Mev. van Rooyen van Wolmaransstad wat vir
Bennie Kruger en mnr. van der Linde bygestaan het totdat hulle heen
is;
-
Die mense wat ons na Bloemhof vervoer het, en
dié wat ons later na Vryburg gebring het;
-
Die Bloemhoffers wat ons so goed versorg
het;
-
Die dokters, verpleegsters, vriende en
besoekers te Klerksdorp;
-
'n Ieder en 'n elk wat gehelp
het
Afgesien van die baie briewe en telegramme wat
die ouers van die Bennies, die drie onderwysers en ook ander lede van die
personeel persoonlik ontvang het, en waarin natuurlik ook meegevoel met die hele
skool betuig is, is ook 'n groot menigte direk aan die Skool (en Skoolhoof)
gerig.
BENNIE MEMORIAL SCHOLARSHIP We
salute the memory of our three young gentlemen and sportsmen, Bennie van
Niekerk, Bennie Kruger and Bennie Kuun. We owe it to them that their names
shall be perpetuated in our School and that such good as may flow from the
disaster in which they died, shall echo their names down the years to
come.
We cannot erect a better Monument to their
memory than the one that has been suggested and which is being launched as we go
to the Press, namely a Scholarship bearing their name and devoted to the purpose
of assisting deserving pupils from our School in the University
education.
It is felt that the appeal which will be made
for funds to establish this, our first Scholarship will meet with a ready
response in every quarter. We pledge the whole hearted support of the School
itself, and of every teacher and pupil to the erection and maintenance of this
Monument.
BENNIE GEDENKBEURS Ons is dit aan die drie Bennies verskuldig
dat hulle nagedagtenis in ons midde sal voortbestaan. Ons voel ons kan nie 'n
geskikter monument aan hulle nagedagtenis wy as die idee van 'n Studiebeurs wat
hulle naam dra nie.
Hierdie Bennie Gedenkbeurs word in die lewe
geroep om verdienstelike skoliere van ons Skool te help met hulle universitêre
opleiding. Ons vertrou dat die oproep wat gedoen gaan word om hierdie
studiebeurs 'n werklikheid te maak by 'n ieder en 'n elk die beste ondersteuning
sal uitlok.
Ons verseker u van die Skool se heelhartige
ondersteuning aan die saak, van die vasberadenheid van elke onderwyser en
skolier om die ideaal te verwesenlik en die voortbestaan van hierdie Monument
aan ons drie Bennies te handhaaf.
*
*
*
KOSTE VERBONDE AAN DIE
ONGELUK
Die mediese en hospitaalkoste verbonde aan die
treinongeluk beloop tans £206 10s. Die saak is nog nie finaal afgehandel nie,
en vermoedelik sal die koste op £240 te staan kom. Dit is die skool se morele
plig om die koste te dra, en ons het dan ook onderneem om dit te
doen.
Die personeel het besluit om 'n vergadering te
belê met 'n verteenwoordiger van elke bestaande liggaam in die dorp. Daar sal
dan besluit word oor die prosedure wat gevolg moet word om die nodige fondse vir
die saak in te vorder. Intussen sal die skool met harlike dank enige bydrae van
vriende wat voel dat hulle ons wil bystaan om die onkoste te dra,
ontvang.
HERINNERING
Graag wil ons namens die Hoërskool en ook
namens onsself 'n kransie van herinnering lê op die grafte van ons drie
leerlinge en vriende: Bennie Kruger, Bennie Kuun en Bennie van Niekerk. Hoe
innig seer voel ons nie as ons terugdink daaraan dat hulle ons ontval is op so
'n manier dat ons nie 'n laaste woordjie met hulle kon wissel of hulle 'n laaste
handdruk kon gee nie. Maar tog hoe innig dankbaar voel ons dat ons die voorreg
gehad het om hulle as leerlinge in ons skool te hê en hulle as vriende te leer
ken: Bennie Kruger en Bennie Kuun, twee baie groot maats, altyd so opgeruimd,
vol grappe en lewenslustig; Bennie van Niekerk altyd so stil en besadigd - seuns
wat met hulle hoë aspirasies en mooi ideale vir ons in die skool die grootste
genoeë verskaf het en op die sportveld so belowend was.
Wat kon ons op daardie onvergeetlike tydstip
aan hulle ouers sê, en wat kan ons vandag sê? Saam met hulle ouers bly daardie
een vraag: Waarom? vir ons nog altyd onbeantwoord.
Totsiens, ons drie vriende. In ons skool en
in ons harte sal daar altyd die soetste herinneringe bly.
M. M. de Jongh
VIR ONS BENNIES SE BEMINDES
Benjamin, dis wat ons troetel; Bennie bly
maar op die knie. Bly hier naby, Bennie, Moet nie weggaan van die liefde
nie.
Benjamin, Beminde, Dis die naam wat al die winde ken -
Liefde wat verloor is; winde Wie sal dié verlies weer wen?
Benjamin, Beminde, Dis die naam van die
geliefde; Die verlies van die beminde, Teerste seer van die gegriefde -
Bedroefdes, dood Is maar vir 'n leeftyd groot; Tyd maar
blom-verganklikheid In ons groei - aarde se skoot. |