BOODSKAP VAN SKOOLHOOF

Vryburg Hoërskool as die beste, genormaliseerde, parallelmedium skool in die Noordwes Provinsie, verteenwoordig in sy personeel, leerders en ouergemeenskap die waardes en norme van ons gediversifiseerde samelewing.  Gebou op die tradisies van 117 jaar (gestig 1891 - die 17de oudste skool in die land) heg ons hoë waarde aan die verlede, haal daaruit wat goed en reg is bou so vir ons 'n toekoms wat uniek is.

Vir ons is dit nie meer snaaks dat oorsese TV-spanne, joernaliste en Professore uit die VSA ons suksesverhaal as model kom bestudeer nie.  In 2001 was ons byvoorbeeld die enigste skool in die land wat deur die Staatspresident uitgenooi is om Vrouedag saam met sy vrou in Genadendal te kom vier.

Met Afrikaans en Tswana as Eerste Tale (volgens keuse) en Engels as Tweede Taal vir al ons leerders is ons Christelike karakter en waardes ononderhandelbaar hoewel daar ruimte gelaat word vir verskeidenheid kultuuragtergronde.  Om skool te gaan by VHS (waar beide die personeel en leerders die bevolkingsamestelling verteenwoordig) is 'n unieke ervaring wat die leerder ten volle voorberei vir die SA van vandag.  Dit is hier waar ons skoolkry met lekkerkry klaarkry.

Op akademiese gebied tel ons onder die top 5% skole in die land met 'n matriekslaagsyfer van bokant 98%.  Ons sportprestasie is weergaloos met die nuutste:  die SA Kampioen o/18-rugbyspan vir Klein Skole in 2002-2004.  Dit nadat al die ander ouderdomsgroepe Provinsiale Kampioene was.  So ook die hokkie (seuns & dogters), netbal, gholf, sokker, tennis, landloop, skyfskiet en atletiek.  Selfs ons perde-uithouwedrenne het al Springbokke Gelewer.
 

Op die kultuurakker ontwikkel ons talente deur gereelde kultuuraande, koorfeeste, redevoering, koerantkursusse en natuurlik "sokkies".  As hoof van ons besonder sterk CSV sorg ons JOT-onderwysers (Jesus Our Teacher) dat die verpligte vak "Lewensoriëntering" vanuit suiwer Bybelse perspektief benader word.  Ons Christelike geloof as uitgangspunt is vir ons ononderhandelbaar.  Ons Christelike waardesisteme vind dus neerslag in ons vakinhoude.

As voornemende leerder aan die tradisieryke skool wil ek jou by voorbaat welkom heet, en die wens uitspreek dat jy gelukkig sal wees.  Hier sal elkeen van die talente wat jy uit die Vaderhand ontvang het ten volle tot onplooiing kom.  Mag hierdie webblad elke slag as jy dit oopmaak jou herinner aan VHS se leuse:  "Carpe Diem" - gryp die geleentheid.

Dr. AS du Toit
Skoolhoof
(POS; KOS; B.A.; B.Ed.; M.Ed.; D.Ed.)

 

Hoërskool Vryburg
2008 - 2010
Webblad Terme & Voorwaardes
Webblad ontwerp & onderhou deur 
Dotcom Vryburg