3 Bennies Storie
3 BENNIES
Die Tragiese verhaal van die 3 Bennies
Hierdie is die verhaal soos vertel deur Joachim Scholtz, wat self ook in die ongeluk was.
“Op hierdie dag – ek meen dit was Mei-maand 1947 – ek was toe in matriek, sou vier rugbyspanne van die skool op Christiana gaan speel. Wyle Oom George van der Linde sou ons Vervoer met ‘n 5-ton vragmotor wat in die Tweede Wêreldoorlog diens gedoen het as troepedraer. Aangesien almal nie op die staalbankies kon sitplek kry nie, het die drie Bennies en Mnr. S. M. de Villiers agter op die klap van die bak gesit.
Ons sou oor Schweizer-Reneke en Bloemhof ry. Ons moes die spoorlyn te Ferndale – tussen Bloemhof en Christiana kruis. Ons moes deur die hekke weerskante van die spoor gaan om oor die spoor te kom. Iemand met ‘n donkiekar het die hekke oopgemaak. Aangesien die vragmotor ‘n seil as dak gehad het, kon die oorgrote meerderheid nie die buitekant sien nie. Die stasie (siding) was dig begroei met groot bome. Toe die oom draai na die hek toe, het een van die Bennies agter uitgeloer en vir ons binnekant geskreeu, “Julle wat daar uit die Kalahari kom en nog nie ‘n trein gesien het nie. Kyk, daar kom nou een.” (vanaf Christiana) Uit die aard van die saak kon feitlik net die drie Bennies en Mnr. S.M. de Villiers (en ek) die trein sien. Ek het net agter die kajuit gesit en aangesien daar ‘n opening was, het ek uitgeloer en die trein aan die anderkant van die siding sien aankom. Oom George het deurgery, want die hekke was oop. Hier moet ek sê dat die ruite opgedraai was en dat die mica tussen die ruite, wat die sig belemmer het, geel en gebars was.
Of die lokomotief gefluit het by die oorgang weet ek nie – ek het niks gehoor nie. Miskien het die Oom ook niks gehoor nie. Nietemin – toe die voorwiele tussen die spore was, het die trein die kajuit van die vragmotor getref – dit het ek gesien deur die opening tussen die seil en die kajuit. Die trein was op volle spoed en het die vragmotor omgeswaai sodat die drie Bennies teen die lokomotief geslinger is. Hulle het geen kans gehad nie en is op slag dood. Mnr. S.M. de Villiers het afgeval. Die wiele van die vragmotor het 72 voet (± 23 meter) daarvandaan gelê. Die ander insittendes het deur die seil gevlieg en sommige het binne in die trokke en tussen die trokke beland en is saamgesleep.
Mnr. van der Linde het in sy seun se arms gesterf. Ek het ‘n wonderbaarlike ontkoming gehad. Ek het in die lengte langs die spoorlyn geval, maar so naby dat die wiele my broek en jas van my lyf afgetrap het. My hoed was met ‘n toutjie aan die jas se lapel vas en dié was ook flenters getrap. Ek het hierdie klere vir baie jare bewaar. Al beserings wat ek opgedoen het, was ‘n sny aan my pols. Ek moes later ‘n rugoperasie en ‘n operasie aan my hand ondergaan.
Om verder te gaan. Toe ek opstaan, het Mnr. S.M. de Villiers reeds begin orde skep. Dit was ‘n vreeslike gesig om meer as vyftig mense te sien lê – party ernstig beseer. Op die stasie was geen telefoon nie en die eerste motor het na ± ‘n halfuur opgedaag om hulp te gaan ontbied. Ambulanse het gekom vanaf Vryburg, Schweizer en Wolmaransstad. ‘n Spesiale trein met geneeshere en verpleegsters is inderhaas vanaf Kimberley gestuur om die ernstig beseerdes na Klerksdorp Hospitaal te vervoer. Onder hulle was Mnr. Calitz en Mnr. Klue (twee van die onderwysers wat voor gesit het). In Vryburg Hospitaal is 24 beseerdes behandel.”
Die drie Bennies:
Bennie Kruger (Matriek)
Bennie Kühn (St. 9)
Bennie van Niekerk (St. 8)
Die Herdenking van die 3 Bennies
Hoërskool Vryburg se matriekraad lê op 17 Mei 2021 ‘n krans by die Drie Bennie Monument op die skoolterrein van VHS. Hiermee word die grusame busongeluk van 74 jaar gelede, waarin die drie seuns, Ben Kühn, Bennie van Niekerk en Bennie Kruger op 3 Mei 1947 oorlede is, herdenk. Vanjaar se kranslegging was besonders omdat mnr. Charles van Niekerk, broer van Bennie van Niekerk, VHS vereer het met sy teenwoordigheid.
Die drie Bennies was deel van ‘n groep wat op die betrokkie dag, 3 Mei 1947, op pad was na ‘n rugbywedstryd teen Christiana toe hulle naby Bloemhof in ‘n botsing met ‘n trein betrokke was. Die busbestuurder, mnr. G van der Linde, is ook in die ongeluk oorlede en nog 8 seuns is ernstig beseer. Wanneer die krans elke jaar gelê word, is dit ook om dankie te sê vir al die duisende kinders van VHS wat gedurig met busse vervoer word en veilig huis toe terugkeer na ‘n uitstappie. VHS se hoogste toekenning aan die veelsydigste matriekleerder, die Drie-Bennie Beker, is vernoem na hierdie drie seuns, wat almal die naam Bennie gehad het.