CALL US
+27 53 927 3938
E-MAIL
admin@vryburg.net
LOCATION
71 De Kock Street

Musiekblyspel

VHS

Musiekblyspel2019

VHS bring “Beauty and the Beast” op die planke

Hoërskool Vryburg het op 31 Julie en 1 Augustus 2019 die bekende musiekblyspel “Beauty and the Beast” in die Vryburg Teater opgevoer. Beide aande se sale was uitverkoop met talle mense wat nog op soek was vir kaartjies en te oordeel na die positiewe kommentaar op sosiale media, was die produksie ’n groot sukses. Tientalle kleuters het albei aande na die tyd na die verhoog gestroom om foto’s saam met hul geliefde karakters soos Belle (Tarah Höll), Beast (Gerhard Viviers), Gaston (Adriaan Louw) en al die ander karakters te neem. 

Almal wat die vertoning bygewoon het, wat dit eens dat die toneelspel, danse, dekor asook klank en beligting puik gedoen isen goed kan vergelyk met professionele produksies. Dit ten spyte daarvan dat hierdie eintlik ’n amateur-produksie is deur sowat 100 leerders en die personeel van Hoërskool Vryburg, waarvan die meerderheid geen formele opleiding in dans of drama het nie. Verder is geen leerder wat graag wou deel wees van “Beauty and the Beast” en bereid was om gereeld te oefen, die deur gewys nie.  

Oudisies is reeds in Januarie gehou en sedertdien is daar op gereelde basis ten minste 10 ure per week of meer gerepeteer om al die woorde, tonele en danspassies onder die knie te kry. Dit was egter vir die leerders wat deelgeneem het die moeite werd . Hul beloning is ’n belewenis wat hulle lewenslank saam met hulle sal dra – vir ’n paar aande was hulle deel van een van die wêreld se mooiste sprokies!

Kostuums is gehuur by Hollywood Costumes en die klank en beligting is gedoen deur Schoeman Sound.