Skoolwapen en Leuse
Omstreeks 1920 is besluit om 'n wapen vir die skool te ontwerp. Sowel die skoliere as die onderwysers is gevra om hieraan mee te doen en simbole voor te stel.
SKOOLWAPEN
Die Leuse
Mnr. Hansie de Villiers (onderwyser) het die eerste leuse voorgestel, naamlik "Rus in Urbe" - "Die distrik in die dorp" omdat daar 'n toestroming van plaaskinders na die koshuise was. Die skoolhoof, Mnr. Carl Gerneke was egter die mening toegedaan dat dit net 'n verdere verwydering teweeg sou bring tussen die dorps- en plaaskinders wat reeds nie wou meng nie. 'n Nuwe leuse, "Carpe Diem", is toe deur mnr. DW (Dan) du Toit voorgestel.
"Carpe Diem" beteken "Gryp die geleentheid vas" (d.w.s. moenie dat dit verbyglip nie). Die leuse is toe finaal aanvaar.
Die Wapenskuld
Die agtergrond van die skild is groen omdat dit ook die hoofkleur van die Republiek van Stellaland was. Bo-aan is 'n perkamentrol met die leuse op.
In die eerste kwadrant is die Ope Boek wat die dors na geleerdheid voorstel omdat daar so 'n groot gebrek aan fasiliteite in daardie dae was.
In die tweede kwadrant verskyn die opkomende son in die agtergrond met 'n graaf wat in die grond steek in die voorgrond. Die son simboliseer die aanbreek van 'n nuwe daeraad of era - voller en beter voorsiening vir onderwys. Die graaf het 'n dubbele simboliese betekenis. Die eerste dui op die aard van die bevolking, hoofsaaklik boere of landbouers. Die tweede is die simbool van arbeidsaamheid.
Die middel word oorheers deur 'n vyfpuntige wit ster wat ook die hoofsimbool was van die Stellalandse Republiek waarvan Vryburg die hoofstad was. Die ster is onderskraag deur 'n gebreekte juk wat die afgewerpte juk van die oorheerser voorstel. Die twee punte wys opwaarts en staan dus vir vryheid en Vryburg. Die naam van die dorp, Vryburg, is afgelei van die nedersetters se sin en ideaal van vryheid - 'n plek waar hulle vry en onafhanklik kon lewe, dus 'n vrye burg of vesting.
Oorspronklik was die middel van die ster versier met "VPS" in ou goud vir "Vryburg Publieke Skool" soos dit destyds geheet het. Later is dit vervang met "VHS" Vryburg High School. Daarna verskyn slegs Vryburg op die wapen sodat dit vir al die skole gebruik kon word.
In 2001 is Vryburg op die ster verwyder om te voldoen aan die eise van die Heraldiek. Op aandrang van die skoolhoof, dr. AS. du Toit, gesteun deur die voorsitter van die Beheerliggaam, ds. M. Coreejes, is die lourierkrans rondom die wapen van die Hoërskool gevoeg om VHS te onderskei van die ander twee opvoedkundige sentrums te wete Laerskool Stellaland en die Voorbereidingskool.