Meer oor Hoërskool Vryburg
Die brief van die Skoolhoof
Ouers, Leerders en Vriende van Hoërskool Vryburg
Welkom by Hoërskool Vryburg – ’n skool waar elke leerder geken, gewaardeer en aangemoedig word om hul volle potensiaal te bereik. By VHS is ons meer as net ’n skool; ons is ’n familie – trots op ons geskiedenis en opgewonde oor wat die toekoms inhou.
Ons leuse, “Carpe Diem” – “Gryp die Dag”, is nie net woorde op ’n kenteken nie, maar ’n leefwyse wat ons elke dag met doelgerigtheid en passie benader. Sedert ons deure in 1881 geopen het, het ons gegroei tot een van die oudste en mees gerespekteerde skole in Suid-Afrika – ’n plek waar ryk tradisies hand aan hand loop met vars geleenthede vir vandag se leerders.
By VHS kry jou kind baie meer as net klaskamers en handboeke. Hier vind hulle toegewyde opvoeders wat daardie ekstra myl loop, vriende wat soos broers en susters word, en ontelbare geleenthede om te groei – akademies, geestelik en persoonlik. Met ’n matriek-slaagsyfer van tussen 95% en 100% oor die afgelope paar jaar, is ons trots op ons konsekwente akademiese prestasies – maar selfs trotser op die selfversekerde, gebalanseerde jong volwassenes wat jaarliks ons skool verlaat.
By VHS glo ons opvoeding gaan oor die totale kind. Dissipline, Christelike waardes en morele leiding vorm deel van die daaglikse skoollewe. Ons doel is dat leerders nie net met kennis uitstap nie, maar ook met sterk karakter, selfrespek en veerkragtigheid.
Buiten akademie is ons skool lewendig en bruisend van aktiwiteite. Of jou kind se passie in rugby, netbal, hokkie, atletiek, krieket, sokker, tennis, landloop, bergfietsry of gholf lê, of in koor, skaak, debat, redenaars, musiekblyspele, CSV of pom-poms – hier is plek vir elke kind om te skitter. Ons werk hand-aan-hand met ouers en ervare afrigters om seker te maak dat elke leerder hul unieke gawes kan ontdek en ontwikkel.
Wat vir ons die belangrikste is: by VHS sal jou kind nooit net ’n nommer wees nie. Ons stap hierdie pad saam met ons families, en saam vier ons elke prestasie – groot én klein.
Baie dankie dat u ons oorweeg as vennote in u kind se toekoms. Dit sal vir ons ’n eer wees om u en u kind welkom te heet in die VHS-familie, waar elke leerder aangemoedig word om die geleenthede aan te gryp en hul skooljare onvergeetlik te maak.
Carpe Diem – Gryp die geleentheid!
Vriendelike groete,
Charlotte van Heerden
Adjunkhoof, Hoërskool Vryburg
Visie
Hoërskool Vryburg sal aan alle leerders ‘ n gehalte, standaard gebaseerde onderrigprogram voorsien deur ‘n goed opgeleide personeel, sodat elke leerder hul volle potensiaal kan bereik.
Missie
Dit is die missie van Hoërskool Vryburg om uitnemendheid te bereik en te handhaaf in die verskaffing van omvattende onderwys en ontwikkeling van elke leered, geïnspireer deur ons Christelike geloof en waardes.
Skoollied
As gevolg van die baie en helder sterre kom die skrywer van ons skoollied,
Mnr. Carl van Wyk tot die gevolgtrekking dat die menslike prestasies onbeperk is.
“We can do anything, only the impossible takes a little bit longer.”
Wyd soos ons ruimtes van vlaktes en rug
Ryk soos ons aarde en skoon soos ons lug
So leef ons en streef ons ons sonnige dag
Aan die Hoërskool Vryburg met jeugdige krag.
Ons werk en ons woeker met liggaam en gees
Om ‘n sieraad vir God en die wêreld te wees
Om te leer en te lewe met al ons mag
Carpe Diem vir ons is die dag.
Here where the grass meets the endless blue sky
Sun shining brightly as seasons fly by
We live and we learn with passionate soul
At the High School Vryburg we accomplish our goals.
We work and we play with a pride for our school
To bring glory to God who is all powerful
So we trust and we pray that we find our way
Carpe Diem we live for the day.
Die musiek is gekomponeer deur G.A. de Ronde, gebore 1904. Die Afrikaanse woorde is geskryf deur Carel van Wyk en die Engelse woorde is bygevoeg in 2017 (geskryf deur Nalize Cilliers, gebore 1993).
Ontstaan van Hoërskool Vryburg
Die Stellalandse Republiek is in 1882 gestig. In daardie tyd was daar nog geen formele onderwysstelsel in Vryburg nie – deels weens die klein bevolking en ’n tekort aan fondse, maar ook omdat basiese vaardighede soos lees en skryf hoofsaaklik tuis aangeleer is.
In 1883 het twee privaatskooltjies deur mej. Dedman en mej. Kennedy ontstaan. Die Vryburg-gemeenskap en die imperiale owerheid (Brits-Betsjoeanaland) het later saamgewerk om ’n publieke skool te vestig, en so is die Vryburg Public School op 2 Februarie 1891 geopen met 20 leerders. Mnr. Kelly is aanvanklik as waarnemende hoof aangestel en het die pos in 1893 permanent aanvaar teen ’n salaris van R400 per jaar. Teen 1901 het die leerlingtal reeds tot 200gegroei en die skoolfonds het R12 per jaar beloop – sowat die prys van twee skape destyds.
Parallel hiermee het die plaaslike Nederduits Gereformeerde Kerk in 1883 die “Poor School” vir behoeftige kinders gestig. Nadat Brits-Betsjoeanaland in 1895 by die Kaapkolonie ingelyf is, is hierdie skool saam met die publieke skool geïntegreer.
Na die Vryheidsoorlog het nog twee skole in die omgewing bestaan: ’n kloosterskool en ’n skool in die konsentrasiekamp. Die plaaslike NG-predikant het ook die Independent School gestig om aan die uiteenlopende taalgroepe te akkommodeer. Teen 1909 was daar vyf skole in Vryburg, wat toe saamgevoeg is tot een instelling.
Met die groeiende leerlingtal het die behoefte aan ’n groter skoolgebou ontstaan. In 1913 is die hoeksteen van ’n nuwe skoolgebou deur H. Rosenblatt gelê. Die gebou het egter gou te klein geraak, en in 1925 is nuwe aanbouings beplan. In 1928 het die Minister van Onderwys, dr. D.F. Malan, die hoeksteen van die huidige hoërskoolgebou gelê. Die gebou is in ’n hoefystervorm ontwerp om toekomstige uitbreiding te vergemaklik.
In 1940 is Laerskool Stellaland gestig toe die laerskoolafdeling afgeskei is weens die groeiende leerlingtal (toe reeds 717). Verdere uitbreidings het plaasgevind in 1948, toe ’n wetenskaplaboratorium, biblioteek en nuwe klaskamers bygevoeg is. Die houtwerk- en huishoudkunde-afdelings is terselfdertyd ingerig. Teen 1960 het die leerlingtal die 600-kerf oorskry en is daar weer uitgebreid.
In 1987 is nog ’n groot uitbreiding voltooi en amptelik geopen deur dr. S.W. Walters, Direkteur van Onderwys. Die projek, ten bedrae van R4 226 906, het die volgende ingesluit:
- Drie tegniese werkslokale (motorwerktuigkunde, elektrisiënswerk en pas- en draaiwerk)
- 17 Klaskamers
- 3 Laboratoriums
- ’n Huishoudkundekamer
- 6 Administratiewe kantore
- ’n Vergrote saal
- ’n Mediese inspeksie-eenheid
- Verskeie pakkamers en badkamers
Vandag is Hoërskool Vryburg meer as 126 jaar oud, met ongeveer 700 leerders, en steeds ’n baken van akademiese, sport- en kultuurontwikkeling in die streek.
Die Tragiese Verhaal van die Drie Bennies
Hierdie is die verhaal soos vertel deur Joachim Scholtz, wat self ook in die ongeluk was.
“Op hierdie dag – ek meen dit was Mei-maand 1947 – ek was toe in matriek, sou vier rugbyspanne van die skool op Christiana gaan speel. Wyle Oom George van der Linde sou ons vervoer met ‘n 5-ton vragmotor wat in die Tweede Wêreldoorlog diens gedoen het as troepedraer. Aangesien almal nie op die staalbankies kon sitplek kry nie, het die drie Bennies en Mnr. S. M. de Villiers agter op die klap van die bak gesit.
Ons sou oor Schweizer-Reneke en Bloemhof ry. Ons moes die spoorlyn te Ferndale – tussen Bloemhof en Christiana – kruis. Ons moes deur die hekke weerskante van die spoor gaan om oor die spoor te kom. Iemand met ‘n donkiekar het die hekke oopgemaak. Aangesien die vragmotor ‘n seil as dak gehad het, kon die oorgrote meerderheid nie die buitekant sien nie. Die stasie (siding) was dig begroei met groot bome. Toe die oom draai na die hek toe, het een van die Bennies agter uitgeloer en vir ons binnekant geskreeu: “Julle wat daar uit die Kalahari kom en nog nie ‘n trein gesien het nie. Kyk, daar kom nou een.” (Vanaf Christiana.) Uit die aard van die saak kon feitlik net die drie Bennies en Mnr. S. M. de Villiers (en ek) die trein sien. Ek het net agter die kajuit gesit en aangesien daar ‘n opening was, het ek uitgeloer en die trein aan die anderkant van die siding sien aankom. Oom George het deurgery, want die hekke was oop. Hier moet ek sê dat die ruite opgedraai was en dat die mica tussen die ruite, wat die sig belemmer het, geel en gebars was.
Of die lokomotief gefluit het by die oorgang weet ek nie – ek het niks gehoor nie. Miskien het die oom ook niks gehoor nie. Nietemin – toe die voorwiele tussen die spore was, het die trein die kajuit van die vragmotor getref – dit het ek gesien deur die opening tussen die seil en die kajuit. Die trein was op volle spoed en het die vragmotor omgeswaai sodat die drie Bennies teen die lokomotief geslinger is. Hulle het geen kans gehad nie en is op slag dood. Mnr. S. M. de Villiers het afgeval. Die wiele van die vragmotor het 72 voet (± 23 meter) daarvandaan gelê. Die ander insittendes het deur die seil gevlieg en sommige het binne in die trokke en tussen die trokke beland en is saamgesleep.
Mnr. van der Linde het in sy seun se arms gesterf. Ek het ‘n wonderbaarlike ontkoming gehad. Ek het in die lengte langs die spoorlyn geval, maar so naby dat die wiele my broek en jas van my lyf afgetrap het. My hoed was met ‘n toutjie aan die jas se lapel vas, en dié was ook flenters getrap. Ek het hierdie klere vir baie jare bewaar. Al beserings wat ek opgedoen het, was ‘n sny aan my pols. Ek moes later ‘n rugoperasie en ‘n operasie aan my hand ondergaan.
Om verder te gaan: Toe ek opstaan, het Mnr. S. M. de Villiers reeds begin orde skep. Dit was ‘n vreeslike gesig om meer as vyftig mense te sien lê – party ernstig beseer. Op die stasie was geen telefoon nie en die eerste motor het na ± ‘n halfuur opgedaag om hulp te gaan ontbied. Ambulanse het gekom vanaf Vryburg, Schweizer en Wolmaransstad. ‘n Spesiale trein met geneeshere en verpleegsters is inderhaas vanaf Kimberley gestuur om die ernstig beseerdes na Klerksdorp Hospitaal te vervoer. Onder hulle was Mnr. Calitz en Mnr. Klue (twee van die onderwysers wat voor gesit het). In Vryburg Hospitaal is 24 beseerdes behandel.”
Die drie Bennies:
- Bennie Kruger (Matriek)
- Bennie Kühn (St. 9)
- Bennie van Niekerk (St. 8)
SKOOLBESTUURSPAN
Charlotte van Heerden
Skoolhoof waarnemend
Willem Strydom
Seuns Koshuis
Bontle Matlhabe
Setswana
Dawid Viviers
Sporthoof
André Botha
Tegniese vakke
Mariette Brink
Kultuur
Lizanne Haasbroek
Ekonomiese vakke
Nono Gasimeilwe
Dogters Koshuis
